Esegiël 41:16-22 DB

16 Ek het ook gesien dat al die vertrekke in die huis van die Here, asook die ingang tot die huis, die drumpels van die deure, die vensters en die gange rondom, alles met hout oorgetrek was. Van die grond af tot by die vensters was alles met hout oorgetrek. Die vensters was ook van hout.

17 Nog iets het my opgeval. Oral was daar tekeninge van boodskappers van die Here en palmbome. Daar was bokant die ingang en teen die huis van die Here aan die binnekant en buitekant, en teen al die mure rondom aan die binnekant en buitekant sulke tekeninge.

18 Tussen elke tekening van ’n boodskapper van die Here was daar palmbome geteken. Elke boodskapper van die Here is met twee gesigte geteken.

19 Aan die een kant was daar ’n gesig soos ’n mens s’n, en aan die ander kant ’n gesig soos dié van ’n leeu. Die hele huis van die Here was so versier, met dieselfde tekeninge.

20 Daar was sulke sketse van die grond af tot bokant die ingang, tekeninge van die boodskappers van die Here en palms. Selfs teen die muur van die voorste vertrek waar die Here self gebly het, was daar sulke tekeninge.

21 Die deurkosyn van die voorste vertrek van die huis van die Here was vierkantig; so ook die deur wat na die agterste vertrek gelei het waar die Here gesit het.

22 Die altaar in die voorste vertrek was van hout gemaak. Dit was een en ’n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante was van hout. Die man het vir my gesê: “Hierdie tafel staan heeltyd in die teenwoordigheid van die Here.”