1 Toe het ek saam met die man teruggeloop na die ingang aan die oostekant van die huis van die Here.
2 Die volgende oomblik het die Here daar aan ons verskyn. Uit die oostekant uit het die God van my volk Hom op ’n spesiale manier aan ons bekendgemaak. Toe die Here praat, het dit geklink soos groot riviere wat oor hulle walle stroom. Hy het soos ’n helder lig, soos die son, geskyn. Alles was verlig rondom ons.
3 Wat ek hier van Hom gesien het, was dieselfde as daardie dag toe Hy my die opdrag gegee het om aan te kondig dat Jerusalem verwoes gaan word. Dit was ook dieselfde as wat ek langs die Kebarrivier gesien het. Ek het op my gesig voor die Here neergeval.
4 Toe het die Here deur die oostelike ingang in sy huis ingegaan.