Esegiël 45:17-23 DB

17 Van die regeerder vra Ek dat hy ook sekere offers vir my huis sal bring op die dae wanneer die volk feesvier. Dis sy verantwoordelikheid om die offers te bring as versoening vir Israel se slegte dade.”

18 Die Here, Esegiël se God, sê verder: “Op Nuwejaarsdag moet die mense wat in die huis van die Here werk, ’n bul vat. Hy mag nie gebreklik wees nie. Met die bul se bloed moet hulle my huis rein maak.

19 Hulle moet dit só doen. Die een wat in my huis werk, moet van die bul se bloed vat en dit aan die deurkosyne smeer. Hy moet dit ook smeer aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en aan die kosyne van die ingang na die binneste deel van my huis.

20 Hy moet dieselfde doen op die sewende van daardie maand. Dalk was daar mense wat slegte dinge gedoen het en dit nie eens besef het nie. Of dalk het hulle nie eens geweet dat dit wat hulle doen, sleg is nie. Só moet jy my huis weer rein maak.

21 “Op die veertiende van daardie maand moet julle dan die paasfees vier om terug te dink aan hoe Israel uit Egipte verlos is. Vir hierdie fees moet julle sewe dae lank brood eet wat geen suurdeeg in het nie.

22 By hierdie fees moet die een wat oor julle regeer, ’n bul as offer bring vir homself en vir die hele volk.

23 Die fees hou sewe dae lank aan. Tydens die sewe dae van die fees moet julle regeerder elke dag ’n offer vir die Here bring. Hy moet sewe bulle en sewe skaapramme na my huis toe bring. Hulle mag nie gebreklik wees nie. Die regeerder moet dan ook nog elke dag ’n bokram as offer bring om die volk se sondes te versoen.