13 “Elke môre moet julle ’n jaaroud ram voor My op die altaar verbrand. Die dier mag nie gebreklik wees nie. Julle mag nie een môre oorslaan nie.
14 Julle moet ook elke môre drie kilogram meel offer, saam met een en ’n derde liter olie om die meel mee klam te maak. Julle mag nie een môre oorslaan nie.
15 Julle moet elke môre die lam en die meel en die olie bring om op die altaar te offer.”
16 So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond aan een van sy seuns gee, word dit die seun se eiendom. As die seun doodgaan, moet sy kinders dit erf.
17 Maar wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond vir iemand gee wat vir hom werk, is dit anders. Hierdie persoon kry die grond tot die jaar wat Ek bepaal het dat alle mense se skuld afgeskryf word. Daardie jaar word die grond weer die eiendom van die regeerder se familie. As die koning doodgaan, erf sy kinders daardie grond.
18 Die regeerder mag nie sy posisie misbruik en sommerso grond van sy volk afvat nie. ’n Mens se grond is die besitting van sy kinders ná sy dood. Ek wil nie hê dat my volk hulle grond moet verloor en dat hulle moet rondval om te probeer oorleef nie.”
19 Die man wat die meetwerk in die huis van die Here moes doen, bring my toe by die ingang aan die noordekant. Dit is die ingang na die vertrekke waar die mense bly wat in die Here se diens is. Aan die westekant van hierdie kamers was daar ’n plek agter die gebou.