Esegiël 46:7-13 DB

7 Saam met die offers moet hy meel bring, sestien kilogram meel saam met die bul en die ram. En soveel meel as wat hy kan bekostig saam met die lammers. En vir elke sestien kilogram meel wat hy bring, moet hy vier liter olyfolie bysit.

8 “As die regeerder na my huis toe kom, moet hy dieselfde ingang gebruik. Hy moet ook weer daar uitgaan.

9 Maar wanneer die mense wat in die land bly op dae wat julle feesvier in my huis wil inkom, moet hulle deur die ingang aan die noordekant gaan. Daar moet hulle My aanbid. Dan moet hulle weer by die uitgang aan die suidekant uitgaan. En dié mense wat by die suidekant ingekom het, moet weer by die noordekant uitgaan. Niemand mag by dieselfde ingang uitgaan as waar hy ingekom het nie. Almal moet só maak.

10 Dieselfde tyd as die mense ingaan, moet die regeerder van die land ook ingaan. Wanneer hulle inkom, moet hy ook in my huis inkom. En wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan.

11 “Op die dae wat julle feesvier, moet julle sestien kilogram meel saam met ’n bul en ’n ram offer. Dan kan julle soveel meel vir die offer gee as wat julle wil as julle lammetjies as offers bring. En vir elke sestien kilogram meel wat geoffer word, moet daar vier liter olyfolie gebring word.

12 Wanneer die regeerder vrywillig op ander tye ’n offer wil bring, moet die mense wat in my huis werk, die ingang aan die oostekant vir hom oopsluit. Dan moet hy dieselfde doen as wat hy op die sewende dag of dae wat julle feesvier, doen. As hy klaar is, moet hy weer by die ingang aan die oostekant uitgaan. Die mense wat daar werk, moet dan die ingang sluit.

13 “Elke môre moet julle ’n jaaroud ram voor My op die altaar verbrand. Die dier mag nie gebreklik wees nie. Julle mag nie een môre oorslaan nie.