10 Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See.
11 Al wat nie weer vars sal word nie, is die moeraswater en die water in die kuile langs die Dooie See. Hulle moet sout bly om julle te herinner aan die wonderwerk wat gebeur het.
12 Aan weerskante van die wal van die rivier sal pragtige vrugtebome groei. Hierdie bome sal anders as ander vrugtebome wees. Hulle blare sal nooit verlep nie, nie eens in die winter nie. En hulle vrugte sal nooit opraak nie. Hulle sal elke maand vrugte dra, want die rivier se water kom uit die huis van die Here. Die mense sal elke dag kom vrugte pluk. En hulle sal die blare gebruik om op hulle seerplekke te sit en dit sal hulle gesond maak.”
13 So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gaan nou vir jou wys wat die grense van die gebiede is wat vir die twaalf stamme van my volk gegee moet word. Onthou om aan Josef twee areas te gee.
14 Aan elkeen van die ander stamme moet julle een area gee. Ek het vir julle oupagrootjies belowe dat Ek hierdie land aan hulle en hulle kleinkinders sal gee. Daarom moet julle dit erf.
15 “Die grense van julle land lyk só: Die grens aan die noordekant van die land is van die Middellandse See, oor die volgende dorpe: oor Getlon tot by Sedad,
16 en verder deur Hamat en Berota, verby Sibrajim tussen die grond wat aan Damaskus en Hamat behoort, en Middel-Gaser wat op die grens van Gauran lê.