12 Aan weerskante van die wal van die rivier sal pragtige vrugtebome groei. Hierdie bome sal anders as ander vrugtebome wees. Hulle blare sal nooit verlep nie, nie eens in die winter nie. En hulle vrugte sal nooit opraak nie. Hulle sal elke maand vrugte dra, want die rivier se water kom uit die huis van die Here. Die mense sal elke dag kom vrugte pluk. En hulle sal die blare gebruik om op hulle seerplekke te sit en dit sal hulle gesond maak.”
13 So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gaan nou vir jou wys wat die grense van die gebiede is wat vir die twaalf stamme van my volk gegee moet word. Onthou om aan Josef twee areas te gee.
14 Aan elkeen van die ander stamme moet julle een area gee. Ek het vir julle oupagrootjies belowe dat Ek hierdie land aan hulle en hulle kleinkinders sal gee. Daarom moet julle dit erf.
15 “Die grense van julle land lyk só: Die grens aan die noordekant van die land is van die Middellandse See, oor die volgende dorpe: oor Getlon tot by Sedad,
16 en verder deur Hamat en Berota, verby Sibrajim tussen die grond wat aan Damaskus en Hamat behoort, en Middel-Gaser wat op die grens van Gauran lê.
17 Die grens van julle land kom van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens.
18 “Die grens aan die oostekant is van Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens.