13 Hulle is die kleinkinders van Levi, en jy moet vir hulle ook grond gee langs dié van die kleinkinders van Sadok. Die grond wat jy vir hulle gee, moet twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees.
14 Die mense wat in my huis werk, mag nie die grond wat hulle kry, verkoop nie. Hulle mag nie hierdie deel van die land, wat die beste deel is, verkoop of verruil nie. Hierdie grond mag nie aan iemand anders behoort nie, want dit behoort aan My.
15 “Die res van die grondgebied, ’n strook van twaalf en ’n half by twee en ’n half kilometer, moet julle gebruik om die stad op te bou. Hier kan julle huise bou en julle skape laat wei. Julle moet die stad hier bou.
16 Die stad moet twee en ’n kwart kilometer by twee en ’n kwart kilometer wees.
17 Jy moet aan al vier kante ’n strook van 125 meter los waarop julle niks mag bou nie.
18 Buite die stad moet jy ’n gebied los waarop boere hulle vee kan laat wei. Hierdie gebied moet vyf kilometer na die oostekant en vyf kilometer na die westekant van die stad lê, al langs die grond wat jy vir My eenkant gesit het. Hier moet die grond bewerk word sodat die mense wat in die stad bly, genoeg kan hê om te eet.
19 Die mense uit al die verskillende stamme van Israel wat gekom het om in die stad te werk, mag hierdie grond bewerk.