2 “Mens, kyk na die berge van Israel. Sê vir hulle wat Ek vir jou gaan sê.
3 Jy moet sê: Berge wat in Israel se grondgebied is, hoor die woord van die Here, wat ook Esegiël se God is. So sê die Here vir die berge en heuwels, vir al die klowe en valleie wat daar in die berge is: Ek gaan oorlog laat aanbreek. Al die tempels vir vreemde gode wat op julle opgerig is, sal Ek laat verwoes deur die leërs van die vyand wat op julle sal kamp opslaan.
4 Al die altare wat op julle opgerig is, sal vernietig word. Ook die altare waarop wierook vir heidense gode verbrand is, sal stukkend geslaan word. Ek sal die mense wat die heidense gode aanbid, voor die altare doodmaak.
5 Ek sal die lyke van die Israeliete wat die afgode aanbid het, voor die afgode neergooi. Hulle bene sal rondom die altare vir hulle afgode gestrooi lê.
6 Waar julle ook al bly, Israel, Ek sal julle gaan uithaal. Ek sal julle stede laat vernietig deur die vyand wat Ek stuur. Ek sal die hoë plekke waar julle afgode aanbid het, laat verwoes. Julle afgodsaltare en julle wierookaltare sal in stukke gebreek word. Daar sal niks oor wees van alles wat julle met soveel moeite vir julle afgode gebou het nie.
7 Daardie dag wanneer julle lyke so tussen die verwoeste stede en altare rondlê, sal julle moet erken dat Ek die Here is.
8 “’n Klompie van die mense sal die rampe oorleef wat Ek oor hierdie land bring. Hierdie groepie sal oor die hele wêreld tussen al die nasies moet gaan bly as gevangenes van hulle vyande.