1 Op die sewentiende September 592 v.C., in die sesde jaar dat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes weggeneem is na ’n vreemde land, was ek by my huis. Die leiers van my volk het by my gekuier. Ek het skielik bewus geraak daarvan dat die Here by my was en dat Hy Homself aan my wil wys.
2 Ek het toe Iemand gesien wat soos ’n Mens gelyk het. Van sy heupe af tot by sy voete het dit gelyk of die Man van vuur gemaak was. En van sy heupe af boontoe het dit gelyk of Hy van vuurwarm, gloeiende metaal gemaak was.
3 Hierdie Man het iets na my toe uitgesteek wat soos sy hand gelyk het. Toe het Hy my aan my hare opgetel. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat my opgetel het. Hy het my na Jerusalem toe gevat. Dit alles het met my gebeur toe ek vir God gesien het. Die Gees het my toe neergesit by die ingang na die huis van die Here op aarde, daar aan die noordekant van die gebou. Net binne die ingang van die huis van die Here het mense ’n standbeeld vir ’n afgod opgerig. Die Here was woedend omdat hierdie afgodsbeeld in sy huis opgerig was.
4 Skielik het die God van Israel in al sy mag daar verskyn. Ek het Hom herken omdat ek Hom ook voorheen in die vallei gesien het.
5 Toe sê die Here vir my: “Mens, kyk op na daardie kant toe, daar na die noordekant.” Ek het toe gekyk, en daar, reg langs die ingang na die altaar in die huis van die Here, het die afgod gestaan waaroor die Here so verskriklik kwaad was.
6 God sê toe vir my: “Mens, sien jy wat hierdie mense aanvang? Sien jy watter slegte dade die volk van Israel doen om My uit my eie huis weg te jaag? Maar kom, laat Ek jou nog erger dade as hierdie wys!”
7 Toe vat die Here my na die voordeur van die huis van die Here toe. Ek sien toe dat daar ’n gat in die muur gemaak is.