22 God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar en word baie. Maak nou die water van die see vol met allerhande soorte seediere. En laat die hemelruim en die aarde vol swerms voëls wees.”
23 Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vyfde dag van die skepping.
24 God het gesê: “Laat die aarde verskillende soorte diere oplewer: alle soorte klein- en grootvee, kruipende dinge en wilde diere.” En dit was so.
25 God het toe al die verskillende soorte wilde diere gemaak asook alle soorte klein- en grootvee en al die kruipende dinge op aarde. En God was baie tevrede met die diere wat Hy gemaak het.
26 Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk. Hy sal oor die visse in die see regeer asook oor die voëls in die hemel. Hy sal die klein- en grootvee asook al die wilde diere tem. Hy sal oor al die kruipende diere op die aarde heers.”
27 God het toe die mens gemaak. En dié mens het iets van God in hom gehad. Dié mens het soos God gelyk. God het ’n man en ’n vrou gemaak.
28 God het hulle toe geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en kry baie kinders, so baie dat julle oral oor die aarde sal bly. Tem die aarde en heers daaroor. Heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en al die diere op die aarde.”