1 Op ’n dag het die Here weer na Abraham toe gekom. Dit was in die omgewing van Mamre naby die groot eikeboom. Abraham het by die ingang van sy tent gesit, want dit was die warmste tyd van die dag.
2 Skielik sien hy drie mans voor hom. Abraham het opgespring en die mans gaan groet.
3 Hy het laag gebuig en toe gesê: “Menere, kom asseblief nader. Moenie verder stap nie. Bly hier. Dit is ’n voorreg om u te ontvang.
4 Ek bring vir u ’n bietjie water en dan kan u sommer daar onder die boom gaan sit en u voete was.
5 “Ek kry ook gou ’n stukkie brood, dan kan u iets eet voordat u verder loop. Dit is wonderlik dat u nou juis hier by my verby moes kom.”Hulle antwoord: “Goed dan, ons sal so ’n rukkie bly. Maak maar soos jy sê.”
6 Abraham is vinnig tent toe om vir Sara te sê: “Vat gou ’n paar hande vol van jou beste fynmeel, knie dit en maak vir die mense broodrolletjies.”
7 Daarna is hy op ’n drafstap beeste toe. Hy keer ’n mooi jong kalf uit die trop en vra een van sy werkers om dit vinnig te slag en die vleis gaar te maak.
8 Toe die kos klaar was, het Abraham die kalf saam met botterstukkies en melk vir die gaste voorgesit. Terwyl hulle geëet het, het Abraham eenkant onder die boom gestaan.
9 “Waar is jou vrou, Sara?” het hulle hom gevra. “Daar, daar in die tent,” het hy gesê.
10 Een van hulle sê toe: “As ek volgende jaar op dieselfde tyd weer hier verbykom, sal jou vrou ’n seun hê.”Sara het dit gehoor, want sy het agter hulle in die tent se ingang gestaan.
11 Abraham en Sara was egter al oud en Sara lankal verby die tyd dat ’n mens ’n kind kry.
12 Dit is hoekom sy gelag het toe sy die man oor ’n seun hoor praat het. Sara het vir haarself gesê: “My lyf is al veels te oud vir die genot van die liefde. En boonop is Abraham ook hopeloos te oud.”
13 Die Here vra toe vir Abraham: “Waarom het Sara netnou gelag? En waarom het sy gedink sy is te oud vir ’n kind?
14 Is enigiets dan vir die Here onmoontlik? Oor ’n jaar is Ek weer hier, dan sal Sara ’n seun hê.”
15 Sara het skielik bang geword en ontken dat sy gelag het, maar die Here het gesê: “O ja, jy het!”
16 Later die middag het die drie mans opgestaan en op ’n plek gekom waar hulle Sodom kon sien. Abraham het ’n ent saamgestap.
17 Terwyl hulle so stap, het die Here gedink: “Sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek met Sodom gaan doen?
18 Abraham se kinders gaan tog ’n groot en sterk nasie word en hulle sal baie mense wees. Al die volke sal Abraham ken; daarom sal dit met hulle goed gaan.
19 Van alle mense het Ek Abraham uitgesoek om my spesiale boodskapper te wees. Hy het nog altyd naby my geleef. Hy sal sy kinders van My vertel en hulle sal ook naby My leef. Hulle sal weet hoe om reg te leef en die regte dinge te doen. Daarom sal Ek nog al my beloftes aan Abraham waar maak.”
20 Die Here het toe vir Abraham alles vertel. “Ek is op pad Sodom en Gomorra toe,” het Hy gesê. “Hulle sonde skreeu ten hemele. Hulle doen die allerverskriklikste dinge.
21 En Ek het kom kyk wat aangaan en of alles so sleg is. Ek moet uitvind of alles oor Sodom en Gomorra waar is of nie.”
22 Twee van die mans het solank aangestap na Sodom toe terwyl die Here nog ’n rukkie met Abraham gepraat het.
23 Abraham vra Hom toe: “Gaan U almal doodmaak, skuldiges en onskuldiges?
24 Sê nou daar is 50 goeie mense in die stad; gaan U dit nogtans verwoes? Sal U nie die stad ter wille van hierdie 50 spaar nie?
25 U sal mos nie goeie mense saam met slegtes laat ly nie. So iets sal U mos nie doen nie. U wat die goeie regter is van die hele wêreld, sal mos nie skuldiges en onskuldiges saam vernietig nie.”
26 Die Here het gesê: “As daar 50 goeie mense in Sodom is, sal Ek die stad ter wille van hulle spaar.”
27 Abraham het weer gepraat: “Voor U is ek niks nie; net maar stof en as. En tog waag ek om U weer te vra:
28 Sê nou daar is nie heeltemal 50 nie, maar net 45 goeie mense. Sal U dan die stad vernietig? Gaan vyf soveel verskil maak?”“Nee,” sê die Here toe, “as daar 45 is, sal Ek nie die stad vernietig nie.”
29 “En sê maar daar is net 40?” het Abraham gevra. Weer het die Here gesê dat Hy nie die stad sal verwoes nie.
30 Abraham sê toe: “Here, moet tog nie kwaad word as ek weer vra nie, maar sê nou daar is net 30?” Weer het die Here Abraham verseker dat Hy die stad sal spaar.
31 Abraham het weer probeer: “Dis verwaand van my om met die Here te redeneer. Maar as daar net twintig is, Here, wat dan?” Weer het die Here gesê dat Hy die stad nie sal vernietig nie.
32 En Abraham het ’n laaste keer gevra: “Here, moenie kwaad wees nie, maar as daar net tien is, wat dan?” En weer het die Here Abraham gerusgestel dat Hy die stad ter wille van hierdie tien sal spaar.
33 Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy omgedraai en in die rigting van Sodom aangestap. En Abraham het teruggegaan huis toe.