Genesis 21 DB

Die verhaal van Isak, Hagar en Ismael

1 Die Here het onthou wat Hy aan Sara beloof het. Hy het gedoen wat Hy belowe het.

2 Sara het ’n seun in die wêreld gebring, presies soos die Here gesê het. Abraham was al oud toe sy seun gebore is.

3 Abraham het sy seun wat Sara vir hom gegee het Isak genoem.

4 Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny omdat die Here vir hom so gesê het.

5 Abraham was 100 jaar oud die dag toe sy seun Isak gebore is.

6 Sara het gesê: “God het my diep gelukkig gemaak. Almal wat my verhaal hoor, sal saam met my lag.

7 Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara nog ’n seun sou borsvoed? Ek het vir hom ’n seun op sy oudag gegee.”

8 Isak het grootgeword en sy ma het later opgehou om hom te borsvoed. Die dag toe dit gebeur, het Abraham ’n groot fees gehou.

9 Sara het gesien dat Ismael eenmaal vir Isak lag. Ismael was Abraham se kind by die Egiptiese vrou Hagar.

10 Sara het Abraham beveel: “Smyt hierdie Egiptiese vrou en haar kind onmiddellik uit. Haar kind kan verseker nie saam met my kind erf nie.”

11 Abraham was baie ongelukkig, want hy was lief vir Ismael.

12 Maar God het vir hom gesê: “Moenie so ongelukkig oor die seun en sy ma wees nie. Maak soos Sara gesê het, want deur Isak sal Ek jou nageslag bou.

13 Met Hagar en Ismael sal dit ook goed gaan. Uit hom sal daar ’n groot nasie kom, want hy is jou kind.”

14 Die volgende dag is Hagar en Ismael toe daar weg. Vroegoggend het Abraham ’n klompie broodrolletjies gepak en ’n watersak volgemaak. Hy het alles op Hagar se rug gesit, hulle gegroet en weggestuur. Hy het gesien hoe hulle in die verte verdwyn. Hagar het in die Bersebawoestyn rondgedwaal.

15 Hulle water het opgeraak. Sy het die kind onder ’n bos neergesit.

16 Sy het eenkant toe gestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n pyl kan skiet. Sy wou nie sien hoe haar kind doodgaan nie. Terwyl sy daar eenkant sit, het sy begin huil.

17 God het gehoor toe die kind huil en deur sy Engel uit die hemel gesê: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees jou kind gaan sterf nie. God het hom gehoor daar waar hy onder die struike lê.

18 Gaan tel hom op en troos hom, want Ek sal hom nog eendag ’n groot nasie maak.”

19 Toe het God Hagar se oë laat oopgaan en sy het ’n fontein met helder water gesien. Sy het die watersak volgemaak en die seun ook laat drink.

20 God was naby Ismael en hy het grootgeword. Hy het in die woestyn gewoon en was ’n goeie jagter.

21 Hy het in die omgewing van die Paranwoestyn gewoon en sy ma het vir hom ’n Egiptiese vrou gekry.

Abraham en Abimelek by Berseba

22 Ongeveer dieselfde tyd het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, Abraham besoek en gesê: “Abraham, God is altyd naby aan jou. Wat jy ook al doen, Hy is by jou.

23 Dit is waarom jy my vandag iets voor God moet beloof. Jy moet my jou woord gee dat jy altyd vir my goed sal wees. Ook vir my kinders en hulle kinders, ook vir hierdie land en al sy mense. Onthou, ek was ook vir julle goed. Destyds toe jy en jou vrou by ons was, was ek goed vir julle.”

24 Abraham het geantwoord: “Goed, ek beloof dit.”

25 Abraham het Abimelek egter van ’n slegte voorval by ’n waterput vertel. Abimelek se manne het op ’n dag die put vir hulleself gevat en Abraham se mense kon dit toe nie meer gebruik nie.

26 Abimelek was ontsteld hieroor en het gesê: “Ek weet nie wie so iets gedoen het nie. Waarom het jy my nie vroeër vertel nie? Dit is die eerste woord wat ek daarvan hoor.”

27 Toe het Abraham skape en beeste gevat en vir Abimelek gegee. Hulle het ’n ooreenkoms met mekaar gemaak.

28 Abraham het toe sewe skaaplammers in die trop gevang.

29 Abimelek het hom verbaas gevra: “Wat doen jy nou? Wat beteken hierdie sewe skaaplammers wat jy eenkant gesit het?”

30 Abraham het geantwoord: “Met hierdie skaaplammers wat ek jou gee, wil ek vir jou sê dat ek self hierdie put gegrawe het en dat dit myne is.”

31 Tot vandag toe word hierdie plek Berseba genoem (wat “put van sewe” of “put van eed” beteken). Dit is waar Abraham en Abimelek ooreengekom het om altyd vir mekaar goed te wees.

32 Na die ooreenkoms by Berseba het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, weer na die Filistyne se land teruggekeer.

33 Abraham het ’n tamarisk by Berseba geplant en daar gebid. Hy het die Here, die ewige God, daar aangeroep.

34 Abraham het nog vir baie jare in die land van die Filistyne gewoon.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50