Genesis 9 DB

’n Nuwe begin

1 God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Word baie en maak die aarde van voor af vol mense.

2 Alle diere op aarde en voëls in die lug asook alles wat op die aarde kruip, sal vir julle bang wees. Selfs die visse in die see sal julle vrees. Ek gee al hierdie diere in julle mag. Julle kan met hulle doen wat julle wil.

3 Julle kan alles eet wat leef, ook alle groenigheid in die veld.

4 Julle mag net nie bloederige rou vleis eet nie, want in die bloed lê die lewe.

5 Net so is julle lewe ook vir My belangrik. Wie julle bloed laat vloei, sal moet rekenskap gee, of dit nou ’n dier of ’n mens is. As ’n mens iemand doodmaak, sal Ek van hom rekenskap eis.

6 “Wie iemand doodmaak, sal doodgemaak word. God het die mens so gemaak dat hy na God lyk. Daarom mag mense mekaar nie doodmaak nie.

7 “Wees vrugbaar en vermeerder. Maak die aarde vol mense en onderwerp dit.”

8 God het toe vir Noag en sy seuns gesê:

9 “Ek maak ’n ooreenkoms met julle en julle kinders

10 en met al die diere wat saam met jou in die ark was: die voëls, die vee en elke wilde dier, met al die diere wat saam met jou by die ark uitgestap het en op aarde leef.

11 Nooit weer sal ’n watervloed alle mense en diere doodmaak nie. Nooit weer sal ’n vloed die hele aarde heeltemal verwoes nie. Ek sal my ooreenkoms met julle hou.”

12 God het verder gesê: “Ek gee vir julle ’n teken van my ooreenkoms, die ooreenkoms wat Ek sluit met alle mense en diere tot in die verre toekoms.

13 Kyk, hoog bo in die wolke sit Ek ’n reënboog. Dit is die teken van die ooreenkoms tussen My en die aarde.

14 Elke keer wanneer dit reën en jy die boog in die wolke sien,

15 sal Ek aan die ooreenkoms dink tussen My en jou en elke lewende wese, dat hulle nooit weer deur ’n watermassa vernietig sal word nie.

16 Telkens wanneer die boog verskyn, sal Ek dit sien en onthou van die ewige ooreenkoms tussen God en elke lewende wese op aarde.”

17 God het toe vir Noag gesê: “Hierdie helder boog is dan die teken van die ooreenkoms wat Ek met almal op aarde gemaak het.”

Noag en sy seuns

18 Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, het saam met hom uit die ark gekom. Gam was die voorvader van al die Kanaäniete.

19 Uit hierdie drie seuns van Noag het al die mense op aarde ontstaan.

20 Noag was ’n boer en hy was die eerste mens wat ná die vloed weer ’n wingerd geplant het.

21 Hy het wyn gemaak en daarvan gedrink. Hy het te veel gedrink en dronk geword. Toe het hy sonder klere op sy bed in die tent gaan lê.

22 Toe Gam, die voorvader van al die Kanaäniete, sien dat sy pa kaal in die tent lê, het hy sy twee broers daarvan vertel.

23 Sem en Jafet wou nie hulle pa kaal sien nie en het toe klere gevat, dit oor hulle skouers gegooi en die tent agteruit binnegestap. Terwyl hulle anderpad kyk, het hulle die klere oor hulle pa gegooi.

24 Toe Noag weer nugter was, het hy gehoor wat sy jongste kind aan hom gedoen het.

25 Hy het toe vir hom gesê: “Gam, oor jou sal dit met die Kanaäniete sleg gaan. Hulle sal nog eendag vir jou broers werk.”

26 Van Sem het hy gesê: “Loof die Here, die God van Sem. Kanaän sal nog Sem se vuilwerk doen.”

27 Van Jafet het Noag gesê: “Mag Jafet se nageslag groot wees. Mag sy kinders saam met Sem se nageslag woon. Kanaän sal ook nog aan Jafet onderhorig wees.”

28 Na die vloed het Noag nog 350 jaar geleef.

29 Noag het gesterf toe hy 950 jaar oud was.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50