1 Van Egipte af het Abram na die suidelike woestyn getrek. Saam met hom was sy vrou asook Lot en almal wat vir hom gewerk het.
2 Abram was baie ryk. Hy het ’n groot klomp vee, silwer en goud gehad.
3 Hy het rus-rus deur die suidelike woestyn getrek, tot by Bet-El. Hy het weer by die plek tussen Bet-El en Ai gekom waar sy tent vroeër gestaan het.
4 Dis dieselfde plek waar hy destyds vir die eerste keer ’n altaar vir die Here gebou het. Daar het hy na die Here geroep in gebed.
5 Lot, Abram se broerskind wat heeltyd nog saam getrek het, het ook ’n klomp vee en mense gehad wat vir hom werk.
6 Naderhand kon hulle nie meer saamleef nie. Die vee was te veel en die land te klein.
7 Abram en Lot se werksmense het ook baie met mekaar begin baklei. In dié tyd het die Kanaäniete en die Feresiete in die land gebly.
8 Abram het toe vir Lot gesê: “Laat daar tog nie spanning tussen ons twee wees nie, en ook nie tussen ons werksmense nie. Ons is tog immers familie.
9 Dalk is dit maar beter dat ons paaie skei. Kies waarheen jy wil gaan. As jy die een deel kies, neem ek die ander. Trek jy na die een deel van die land toe, gaan ek elders. So, jy kan kies.”
10 Lot het toe rondgekyk. Die Jordaanvallei met sy baie water was vir hom baie mooi. Dit was natuurlik voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het. Dit was so mooi soos die tuin van die Here, of soos die dele naby Soar in Egipte.
11 Lot het toe die hele Jordaanvallei vir homself gekies. Hy het toe sy oom, Abram, gegroet en ooswaarts getrek.
12 So het Abram en Lot se paaie geskei. Abram het alleen in die land Kanaän agtergebly terwyl Lot in die Jordaanvallei se groot stede gaan woon het. Na ’n ruk het hy in die buitewyke van die stad Sodom gaan bly.
13 Sodom se inwoners was egter baie slegte mense. Hulle het nie na die Here geluister nie en baie verkeerde dinge gedoen.
14 Na Lot van hom weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk net ’n bietjie om jou,” het Hy gesê. “Kyk stip in die rigting van die noorde en die suide, die ooste en die weste.
15 En wat jy ook al rondom jou sien, sal Ek eendag aan jou en jou nageslag gee.
16 Ek maak jou nageslag so baie soos die stof van die aarde. As iemand die stof kan tel, sal hulle ook jou nageslag kan tel.
17 Gaan loop net ’n bietjie deur die hele land en weet: waar jy ook al kom, Ek sal dit eendag vir jou gee.”
18 Abram het toe sy tent en al sy ander goed gepak en begin trek. Sy eerste kampplek was by die bome van Mamre duskant Hebron. Daar het hy vir die Here ’n altaar gebou.