1 God het aan Noag en sy mense in die ark gedink, ook aan al die diere saam met hom. God het toe ’n sterk wind oor die watermassa gestuur en die watervlak het stadig maar seker begin sak.
2 Al die onderaardse fonteine het opgehou om te vloei. Al die donker reënwolke het verdwyn en dit het ophou reën.
3 Bietjie vir bietjie het die water toe begin wegsak. Na 150 dae het die watervlak al soveel gesak dat die ark by die berg Ararat gaan staan het.
4 Dit het op die sewentiende dag van die sewende maand gebeur.
5 Tot die tiende maand het die watervlak bly daal sodat ’n mens al die bergpieke in die verte kon sien.
6 Nog 40 dae later het Noag die ark se luik oopgemaak en ’n kraai laat uitvlieg.
7 Dit het heen en weer oor die water gevlieg totdat die water uiteindelik opgedroog het.
8 Noag wou weet of die aarde al droog was; daarom het hy ’n rukkie later ’n duif uitgestuur.
9 Die duif kon nêrens gaan sit nie omdat daar oral water was en het na die ark toe teruggevlieg. Noag het sy hand uitgesteek en die duif het daarop gaan sit. Hy het die duif in die ark gebring.
10 ’n Week later het hy weer die ark se luik oopgemaak en die duif uitgestuur.
11 Teen die aand se kant het die duif teruggekom met ’n vars geplukte olyfblaartjie in sy bek. Toe het Noag geweet die water het in die grond weggesak.
12 Hy het egter nog ’n week gewag en toe weer die duif uitgestuur. Dit het nie weer teruggekom nie.
13 In Noag se 601ste jaar, op die eerste dag van die eerste maand, het die water al so weggesak dat ’n mens die droë grond kon sien.
14 Noag het die ark se deur oopgemaak en gesien die aarde is droog.
15 Dit was die 27ste dag van die tweede maand.
16 God het toe vir Noag gesê: “Kom maar uit die ark uit, jy en jou vrou, jou seuns en hulle vroue.
17 Bring ook al die diere saam met jou uit, alles wat lewe, die voëls en vee en kruipende diere. Laat hulle uitkom en op die aarde rondbeweeg sodat hulle vrugbaar kan word en kan vermeerder.”
18 Noag en sy mense het toe uitgestap.
19 Agter hulle het die diere volgens hulle spesies uitgekom.
20 Noag het toe ’n altaar vir die Here gebou en hy het van die rein diere en voëls as brandoffer vir die Here geslag.
21 Toe die Here die heerlike geur ruik, het Hy gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek oor die mens nie, want die mens is sleg van kleins af. Ek sal nooit weer so iets verskrikliks doen nie. Nooit weer sal Ek mens en dier so totaal uitwis nie.
22 “So lank as wat die aarde bestaan, sal saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou bestaan nie.”