1 Op ’n dag het die Here vir Abram gesê: “Jy moet weggaan, weg van die plek waar jy gebore is, weg van jou pa se huis af. Ek sal jou ’n ander land gee waar jy kan gaan bly.
2 Ek sal jou en jou nageslag ’n groot nasie maak. Ek sal jou ryk en voorspoedig maak. Oral sal mense jou naam ken en van jou praat. Oor jou sal dit met hulle ook goed gaan.
3 “Wie vir jou goed is, sal Ek gelukkig maak. Wie jou sleg behandel, sal teëspoed ervaar. Oor jou sal dit met alle mense op aarde goed gaan.”
4 Abram het toe alles gelos en weggegaan, net soos die Here vir hom gesê het. Sy broerskind, Lot, het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het.
5 Abram het sy vrou, Sarai, sy broerskind, Lot, en al die besittings wat hulle oor die jare opgegaar het, saamgevat. Al die mense wat vir Abram-hulle in Haran gewerk het, het ook saamgetrek. Hulle het in die rigting van Kanaän begin trek en na ’n lang tyd daar aangekom.