1 Op ’n dag het Amrafel (die koning van Sinar), Arjok (die koning van Ellasar), Kedorlaomer (die koning van Elam) en Tidal (die koning van Gojim) besluit om oorlog te maak teen
2 Bera (die koning van Sodom), Birsa (die koning van Gomorra), Sinab (die koning van Adma), Semeber (die koning van Sebojim), en Soar (die koning van Bela).
3 Bera en die ander konings het toe ’n bondgenootskap gevorm en in die Siddimvlakte (vandag is dit die Soutsee) bymekaargekom.
4 Twaalf jaar lank moes hulle Kedorlaomer dien, maar in die dertiende jaar het hulle net besluit om te rebelleer.
5 ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote met ’n militêre veldtog begin. Blitssnel het hulle die Refaïete in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte
6 en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran aan die randjie van die woestyn vernietig.
7 Toe het hulle vinnig omgedraai en na die fontein van Oordeel (dit is Kades) teruggekeer. Kedorlaomer-hulle het onverwags op die Amalekiete toegeslaan en hulle gebied verower. Al die Amoriete wat destyds in Gaseson-Tamar gewoon het, is ook onderwerp.