5 Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.”
6 Abram het die Here toe geglo. Vir die Here was dit goed dat Abram so op Hom vertrou.
7 Verder het die Here gesê: “Abram, Ek is die Een wat jou familie destyds uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het. Ek het dit gedoen omdat Ek hierdie land vir jou wil gee.”
8 Abram het vinnig gereageer: “Maar hoe weet ek dit, Here? Hoe weet ek dat alles eendag myne sal wees?”
9 Die Here het hom so geantwoord: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal so drie jaar oud. En bring ook sommer ’n tortelduif en ’n jong duif saam.”
10 Abram het die diere bymekaargekry, hulle middeldeur gesny en die helftes teenoor mekaar gesit. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie.
11 Die roofvoëls het later op die dooie diere neergesak. Abram moes hulle heeltyd wegjaag.