1 Na al die jare was Abram se vrou, Sarai, steeds kinderloos. Uit frustrasie het sy haar Egiptiese slavin, Hagar, na Abram toe gevat en gesê:
2 “Die Here het my nie ’n kind van my eie gegee nie. So, vat haar. Slaap by haar en laat haar kind ook my kind wees.” Vir Abram was dit ’n uitstekende plan.
3 Hulle was immers al tien jaar in die land en nog niks het gebeur nie. Sarai het toe haar slavin, Hagar, die vrou uit Egipte, vir haar man, Abram, as byvrou gegee.
4 Abram het by Hagar gaan slaap en sy het ’n kind verwag. Hagar het toe hoogmoedig geword en Sarai sleg behandel.
5 Diep seergemaak het Sarai vir Abram gesê: “Dis alles jou skuld. Ek verdien nie om so beledig te word nie. Ek het haar vir jou gegee, maar toe sy sien sy verwag, het sy my begin verag. Laat die Here tussen my en jou oordeel.”
6 Abram het toe gesê: “Dis jou slavin, maak met haar wat jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar haar goed gevat en weggeloop het.
7 Die Here het deur sy Engel vir Hagar by ’n fontein in die woestyn ontmoet. Dit is die fontein op die pad na Sur. Hy vra haar toe: “Hagar, Sarai se slavin, sê My, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?”