5 Boonop sê sy ook dat Abraham haar broer is. Hoe moes ek dan nou geweet het? My bedoelings was goed en my gewete is skoon, maar hulle het my mislei.”
6 God het Abimelek geantwoord: “Ek weet dit. Ek weet jy het dit goed bedoel, maar hulle het jou mislei. Dit is hoekom Ek gesorg het dat jy nie naby haar kom of by haar slaap nie.
7 Maar nou moet jy haar vir haar man gaan teruggee. As jy dit nie doen nie, sal dit sleg met jou en jou mense gaan. Abraham is eintlik ’n goeie man. Hy is ’n boodskapper van My en hy sal vir jou bid.”
8 Vroeg die volgende oggend het Abimelek sy manne bymekaargeroep en hulle alles vertel. Almal was baie bang.
9 Later het Abimelek vir Abraham laat kom en woedend gevra: “Wat het jy gedoen? Wat het ek verkeerd gedoen dat jy so ’n groot sonde oor my en my mense gebring het? Jy kon ons almal vernietig het. Jy het my en my mense in die allergrootste verleentheid geplaas.
10 Waar het ek jou al ooit sleg behandel? Ag nee wat, Abraham, wat jy gedoen het, is verkeerd.”
11 Abraham het probeer verduidelik: “Ek was bang, Meneer, ek was bang. Ek het vir myself gesê dat hierdie plek se mense nie vir God ken nie en dat hulle my sommer oor my mooi vrou sal doodmaak.