6 Abraham het die hout van die brandoffer gevat en op Isak se rug vasgemaak. Abraham het ’n groot mes gedra asook die vuurklip waarmee hulle die hout moes aansteek. Saam-saam het hulle na die plek toe aangestap.
7 Na ’n ruk het Isak die stilte verbreek. “Pa?” het hy gevra.“Ja, seun,” het Abraham geantwoord.“Pa, hier is nou wel hout en vuurklip om dit aan te steek, maar waar is die skaap vir die brandoffer dan?”
8 Abraham het geantwoord: “Moenie bekommerd wees nie, seun. God sal self nog vir ons ’n skaap gee om te offer.” Die twee het verder gestap.
9 Uiteindelik het hulle by die plek gekom waarvan God gepraat het. Abraham het dadelik afgepak, ’n altaar gebou, die hout gevat en dit op die altaar gesit.
10 Toe gryp hy vir Isak, druk hom op die altaar bo-op die hout vas en met sy ander hand vat hy die mes, die groot mes wat hy die hele pad saamgedra het en waarmee hy Isak wou doodmaak.
11 Op daardie oomblik het die Engel van die Here uit die hemel geroep: “Abraham, dit is Ek. Hou dadelik op.
12 Los die mes en moenie die seun seermaak nie. Ek weet nou dat jy My liefhet, want jy was bereid om jou lieflingskind, jou enigste seun, vir My te offer.”