1 Abraham was nou baie oud, maar die Here was naby aan hom en dit het goed met hom gegaan.
2 Op ’n dag het hy sy oudste en betroubaarste werker, die een wat in beheer van al sy geldsake was, nader geroep en vir hom gesê: “Kom sit jou hand op my heup en maak ’n belofte.
3 Jy moet my in die Naam van die Here, die God van die hemel en die aarde, beloof dat jy nie vir my seun ’n Kanaänitiese vrou sal kies uit die mense waartussen ek bly nie.
4 Jy moet na die land toe gaan waar ek vandaan kom. Daar moet jy tussen my eie mense vir my seun Isak ’n vrou gaan soek.”
5 Abraham se werker was ’n bietjie bekommerd en het gevra: “En sê nou die jongmeisie wil nie saam met my kom nie? Moet ek u seun dan terugvat na die land waarvandaan u kom?”
6 “Nee, hoegenaamd nie,” het Abraham gesê. “Moet tog nie dat my seun daarheen gaan nie.
7 Baie lank gelede het die Here, die God van die hemele, my laat wegtrek van my pa se huis en van my mense se land. En die Here het my beloof dat Hy hierdie land waarin ek nou woon, eendag aan my nageslag sal gee. Moet dus nie bang wees nie, want die Here sal sy engel voor jou uitstuur en hy sal jou help om vir Isak ’n vrou te kry.