31 Laban het gesê: “Vriend, kom saam met my huis toe. Jy is deur die Here geseën. Kom, waarom staan jy nog daar? By ons huis is daar baie plek vir jou en jou kamele.”
32 Die man is toe saam met Laban huis toe. Daar gekom, het Laban die kamele afgelaai en vir hulle voer en strooi gegee. Hy het ook vir al die mense water gegee sodat hulle hulle kon was.
33 Laban het ’n klomp kos vir die man gebring, maar dié het gesê: “Voordat ek eet, moet ek julle eers alles vertel.”“Goed dan,” het Laban gesê, “praat dan maar eers.”
34 “Ek werk vir Abraham,” het hy begin.
35 “Die Here het meneer Abraham geseën en hom ’n ryk man gemaak. Hy het hom troppe skape, bokke en beeste gegee asook baie silwer en goud, mans- en vrouewerkers en ook nog ’n klomp donkies en kamele.
36 Sara, my meneer se vrou, het hom op ’n hoë ouderdom ’n seun gegee. En meneer Abraham het alles wat hy het, vir dié kind gegee.
37 My meneer het my toe met ’n eed laat belowe dat ek nooit vir Isak ’n jongmeisie in Kanaän waar ons bly, sal gaan soek nie.