47 En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet.
48 Daarna het ek in dankbaarheid voor die Here gebuig en Hom geprys. Ek het die God van meneer Abraham geloof omdat Hy my reguit na Rebekka toe gelei het. Ek het Hom geprys omdat ek een van meneer Abraham se eie mense vir Isak as vrou gekry het.
49 “As u vandag my meester eer en liefhet, moet u dit asseblief vir my sê. As u nie so dink nie, moet u dit ook asseblief vir my sê.”
50 Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur.
51 Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.”
52 Toe Abraham se werker dit hoor, was hy so bly dat hy op die grond gekniel en die Here geloof het.
53 Hy het vinnig goue en silwer geskenke gaan haal en dit saam met ’n klomp klere vir Rebekka gegee. Hy het ook geskenke vir haar ma en broers gegee.