5 Abraham se werker was ’n bietjie bekommerd en het gevra: “En sê nou die jongmeisie wil nie saam met my kom nie? Moet ek u seun dan terugvat na die land waarvandaan u kom?”
6 “Nee, hoegenaamd nie,” het Abraham gesê. “Moet tog nie dat my seun daarheen gaan nie.
7 Baie lank gelede het die Here, die God van die hemele, my laat wegtrek van my pa se huis en van my mense se land. En die Here het my beloof dat Hy hierdie land waarin ek nou woon, eendag aan my nageslag sal gee. Moet dus nie bang wees nie, want die Here sal sy engel voor jou uitstuur en hy sal jou help om vir Isak ’n vrou te kry.
8 As die jongmeisie nie wil saamkom nie, hoef jy nie verder te soek nie. Dan is jy vry van jou belofte aan my. Jy moet tog net nie my seun daarheen neem nie.”
9 Die werker het sy hand op Abraham se heup gesit en hom opreg beloof om te doen wat hy gevra het.
10 Die werker het toe tien van Abraham se kamele gevat en die beste geskenke, en hy is daar weg. Hy het reguit koers ingeslaan na ’n plek in die noorde van Mesopotamië. Dit was die stad waar Nahor, Abraham se broer, gewoon het.
11 Een middag het die werker uiteindelik daar aangekom. Net buite die stad was daar ’n fontein en hy het die kamele daar laat drink. Dit was teen die aand, die tyd van die dag dat die vroue fontein toe gekom het om water vir die huis te skep.