50 Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur.
51 Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.”
52 Toe Abraham se werker dit hoor, was hy so bly dat hy op die grond gekniel en die Here geloof het.
53 Hy het vinnig goue en silwer geskenke gaan haal en dit saam met ’n klomp klere vir Rebekka gegee. Hy het ook geskenke vir haar ma en broers gegee.
54 Toe het hy en die mans geëet en gedrink en die nag daar oorgebly. Die volgende oggend het die werker gesê: “Ek wil baie graag nou teruggaan.”
55 Rebekka se broers en haar ma het gesê: “Wag ’n rukkie. Laat haar vir nog so ’n dag of tien by ons bly en dan kan sy saam met jou gaan.”
56 “Mense,” het die werker gesê, “julle was baie goed vir my, maar moet my tog nie nou keer nie. Die Here het my gehelp om te doen wat ek moes doen, en nou wil ek so gou moontlik na my meester teruggaan.”