27 Albei seuns het grootgeword. Esau was ’n natuurmens en ’n goeie jagter, en hy het graag buite gekom. Hy het mettertyd die jagkuns aangeleer en ’n vaardige jagter geword. Jakob was heeltemal anders. Hy was ’n eenkantmens wat graag sy tyd in die tent deurgebring het.
28 Isak was mal oor Esau, omdat hy altyd vir sy pa sulke lekker wildsvleis gemaak het. Rebekka weer was erg oor Jakob, haar huiskind.
29 Op ’n dag het Jakob heerlike kos gemaak. Esau daag toe uit die bloute daar op. Hy was moeg en honger
30 en sê toe vir Jakob: “Ek is uitgeput en honger. Gee my tog so ’n ietsie van jou lekker kos, van die rooi goed wat jy daar het.” Toe Esau gebore is, was hy mos so rooierig en dit is waarom hulle hom Esau genoem het.
31 Jakob, die skelm, het geantwoord: “Gee my eers al jou regte en voordele as oudste kind.”
32 “Ag, wat,” het Esau gesê, “jy kan maar alles vat. Ek is tog aan die doodgaan en nou help al daardie regte en voordele my net mooi niks. So, vat dit vir jou.”
33 Die geslepe Jakob het egter druk op Esau geplaas: “Nee, jy moet eers sweer en beloof dat alles myne is.” Esau het toe sy woord gegee dat Jakob sy eersgeboortereg kon kry.