15 Hulle het toe grond in al Isak se putte gegooi en dit toegestop. Hierdie putte is destyds nog deur sy pa, Abraham, se mense gegrawe.
16 Abimelek het Isak besoek en gesê: “Gaan liewers weg van ons af, want jy is nou baie ryker en sterker as ons.”
17 Isak het toe weggetrek en in die Gerarvallei gekom. Daar het hy ’n ruk lank gebly.
18 Na ’n tydjie het Isak teruggegaan en begin om stuk-stuk al die waterputte oop te grawe wat sy pa se mense nog gegrawe het. Dit was die putte wat die Filistyne na Abraham se dood toegestop het. Isak het hulle dieselfde name gegee as wat sy pa hulle genoem het.
19 Toe Isak se mense besig was om in die vallei te grawe, het hulle op ’n put met fonteinwater afgekom.
20 ’n Hewige rusie het tussen die mense van Gerar en Isak se herders ontstaan. Gerar se mense het gesê: “Dit is ons water hierdie.” Isak het die put toe “Rusie” genoem omdat hulle daar met hom rusie gemaak het.
21 Isak-hulle het nog ’n put oopgegrawe en weer was daar ’n getwis. Dit was so erg dat hy dit “Klagte” genoem het.