33 Isak was so ontsteld dat hy baie gebewe het. “Wie,” het hy gevra, “was dan netnou hier? Die man het dan ook van die jagveld gekom en vir my wildskos gegee. Net voor jy gekom het, het ek alles klaar geëet en hom geseën. Met hom sal dit daarom altyd voorspoedig gaan.”
34 Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy bitterlik begin huil. Hy was geweldig hartseer en verbitterd. Na ’n ruk sê hy toe vir Isak: “Pa, asseblief, Pa, seën my ook!”
35 “Dit is alles jou slinkse broer se skuld,” het Isak bewoë gesê. “Hy het jou seën van jou af weggeruk.”
36 “Hy is niks anders as ’n bedrieër nie,” het Esau geantwoord. “Hy het my nou al twee keer bedrieg. Eers het hy my geboortereg gevat en nou my seën. Sy naam is nie verniet Jakob nie, want hy is ’n regte bedrieër.” Esau het verleë gevra: “Pa, het Pa nie dalk vir my ook ’n stukkie seën gebêre nie?”
37 Isak het Esau geantwoord: “Ek het nie iets vir jou nie, my kind. Ek het klaar gesê hy sal soos ’n ouer broer oor jou regeer en dat jou familie nog eendag vir hom sal werk. Ek het ook klaar gesê dat hy die lekker dinge van die lewe sal geniet. Wat kan ek vir jou doen, my seun?”
38 Esau het weer gepleit: “Het Pa dan waaragtig niks vir my nie? Asseblief, Pa, gee my ook iets!” Isak het net stilgebly. Esau het toe bitterlik begin huil.
39 Isak het vir Esau gesê: “My seun, jy sal altyd swaarkry. Jou grond sal dor en droog bly. Reën sal daar nie baie wees nie.