37 Isak het Esau geantwoord: “Ek het nie iets vir jou nie, my kind. Ek het klaar gesê hy sal soos ’n ouer broer oor jou regeer en dat jou familie nog eendag vir hom sal werk. Ek het ook klaar gesê dat hy die lekker dinge van die lewe sal geniet. Wat kan ek vir jou doen, my seun?”
38 Esau het weer gepleit: “Het Pa dan waaragtig niks vir my nie? Asseblief, Pa, gee my ook iets!” Isak het net stilgebly. Esau het toe bitterlik begin huil.
39 Isak het vir Esau gesê: “My seun, jy sal altyd swaarkry. Jou grond sal dor en droog bly. Reën sal daar nie baie wees nie.
40 Vir jou lewe sal jy altyd moet veg, en vir jou broer sal jy moet werk. Maar as jy jou lank genoeg verset, kan jy nog sy juk van jou afgooi.”
41 Jakob het vir Esau gekul en Esau het hom begin haat. Esau het toe ’n besluit geneem: “Na my pa se dood gaan ek my broer doodmaak. Ek gaan net wag tot die routyd verby is.”
42 Rebekka het gehoor dat Esau, haar oudste kind, dit gesê het en sy het haar jongste, Jakob, gewaarsku: “Jou broer gaan wraak neem en jou doodmaak.
43 Luister nou baie mooi na my: gaan onmiddellik na my broer Laban in Haran toe.