1 Van al die wilde diere wat die Here God gemaak het, was die slang die skelmste en agterbaksste. Op ’n dag probeer hy die vrou uitoorlê deur vir haar te sê: “Ek hoor julle mag nie van die bome in die tuin eet nie. God het glo vir julle so gesê, of hoe?”
2 “Nee,” het die vrou die slang vinnig in die rede geval, “ons mag van al die bome in die tuin eet.
3 Dit is net van daardie boom in die middel van die tuin waarvan ons nie mag eet nie. God het uitdruklik gesê: ‘Moenie daarvan eet nie. Moenie eers daaraan raak nie. As dit gebeur, sal julle doodgaan.’”
4 Die slang het egter gesê: “Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie.
5 God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en sal julle soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.”
6 Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet.
7 Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere.