14 Op ’n dag, tydens die oestyd, het Ruben in die veld gaan stap. Hy het liefdesappels gesien en dit opgetel. Liefdesappels was ’n vrug wat mense lief gemaak het vir mekaar. Ruben het die liefdesappels vir sy ma gebring. Toe Ragel dit sien, het sy dadelik gesê: “Lea, gee my asseblief van Ruben se liefdesappels.”
15 Lea het geïrriteerd gevra: “Wat? Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog my kind se liefdesappels ook hê.”“Asseblief, Lea,” het Ragel gepleit, “jy kan vannag my beurt kry. Jakob kan by jou gaan slaap, maar dan moet jy my van jou kind se liefdesappels gee.” Lea het die liefdesappels toe vir haar gegee.
16 Toe Jakob die aand van die veld af kom, het Lea hom tegemoetgestap. “Jakob,” het sy geroep, “jy slaap vanaand by my. Ek het klaar daarvoor betaal met Ruben se liefdesappels wat hy opgetel het.” Jakob het toe by Lea geslaap.
17 God het Lea se gebede verhoor en sy het verwag en vir Jakob ’n seun gegee. Dit was die vyfde een.
18 Lea het gesê: “God beloon my omdat ek my slavin vir Jakob gegee het.” Sy het die kind Issaskar genoem.
19 Lea het sowaar weer verwag en nog ’n seun vir Jakob gegee. Dit was die sesde.
20 Lea het gesê: “God het my werklik ’n kosbare geskenk gegee. Hierdie keer sal Jakob presente vir my moet bring, want ek het hom ses seuns gegee.” Sy het die kind Sebulon genoem.