10 Jakob het verder vertel: “Eendag, dit was in die paartyd, het ek ’n droom gehad. Ek het gesien hoe gespikkelde, gestreepte en gevlekte bokramme met die ooie paar. Al die lammetjies wat gebore sou word, sou ook gespikkel, gestreep en gevlek wees.
11 “En terwyl ek nog so droom, roep die Engel van God my: ‘Jakob.’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek.’
12 “Die Engel het voortgegaan: ‘Ek het dit ook gesien. Al die ramme tydens paartyd was gespikkel, gestreep en gevlek. Alles wat Laban oor die jare aan jou gedoen het, het Ek raakgesien.
13 Jakob, Ek is die God van Bet-El. Daar het jy lank gelede ’n klip regop gesit, olie daaroor uitgegooi en toe ’n gelofte aan My gemaak. Los nou hierdie land en sy mense en gaan terug na die plek waar jy gebore is.’”
14 Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot?
15 Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem.
16 Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.”