17 Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur.
18 Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het.
19 Hulle het ongemerk weggekom, want Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Voor hulle weg is, het Ragel egter stilletjies haar pa se huisgode gaan steel.
20 Jakob het Laban, die Arameër, so om die bos gelei dat hy niks vermoed het nie.
21 Jakob kon dus maklik met al sy besittings wegkom. Hulle was gou oor die Eufraatrivier en het in die rigting van Gilead se berge getrek.
22 Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend.
23 Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg.