22 Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend.
23 Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg.
24 God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.”
25 Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan.
26 Laban het na Jakob toe oorgestap en vir hom gesê: “Wat het jy aangevang? Jy het my bedrieg en my dogters weggeneem asof hulle krygsgevangenes is.
27 Hoekom het jy alles so in die geheim gedoen? Hoekom het jy my om die bos gelei? Hoekom het jy my niks gesê nie? As ek vooraf geweet het, kon ek julle ten minste met feesmusiek, met tamboeryne en liere, laat weggaan het.
28 Waarom het jy my nie toegelaat om my kleinkinders te groet nie? En my eie dogters totsiens te soen nie? Nee, werklik, Jakob, jy het dom opgetree.