32 Maar van jou huisgodjies weet ek werklik niks nie. Deursoek ons goed voor almal hier en as jy dit by iemand kry, sal die persoon doodgemaak word. As jy ook enigiets anders kry wat joune is, kan jy dit terugvat.” Jakob het egter nie geweet dat Ragel die huisgodjies geneem het nie.
33 Laban het by Jakob se tent begin en daarna in Lea se tent gaan soek. Hy het ook die tente van Bilha en Silpa deursoek, maar niks gekry nie. Daarna het hy na Ragel se tent toe gestap.
34 Sy het intussen die huisgodjies in die kameel se saalsak weggesteek en daar bo-op gaan sit. Laban het die hele tent gefynkam, maar niks gekry nie.
35 Ragel het vir Laban gesê: “Pa moet tog nie vir my kwaad wees omdat ek bly sit nie. Dit is weer daardie tyd van die maand en ek kan nie opstaan nie.” Laban het verder gesoek, maar niks gekry nie.
36 Jakob het kwaad geword en Laban trompop geloop: “Wat het ek verkeerd gedoen? Vir wat agtervolg jy my so? Waar het ek oortree?
37 Jy het al my goed deursoek en wat het jy gekry? Kon jy enige gesteelde goed kry? Kom sit dit dan hier voor my en jou mense neer. Laat hulle dan besluit of ek ’n dief is of nie.”
38 Jakob het voortgegaan: “Twintig lange jare het ek jou getrou gedien. Nooit het jou skaapooie of bokooie hulle lammers verloor nie. Nooit het ek ’n ram gesteel en dit geëet nie.