1 Laban was vroeg die oggend al op. Hy het sy goedjies gepak en toe die kinders gaan groet, vir Ragel, Lea en al die kleinkinders. Laban het hulle almal gesoen en hulle geseën, en toe is hy terug huis toe.
2 Jakob-hulle het ’n ander koers ingeslaan. Langs die pad het hy engele teëgekom.
3 Jakob het gesê: “Dit is seker waar God se leërmag woon.” Hy het die plek toe Mahanaim genoem, wat “Twee kampe” beteken.
4 Jakob was bang vir Esau. Hy het daarom mense met ’n boodskap na sy broer Esau by die Seïrgebied in Edom gestuur.
5 Hulle moes die volgende sê: “So sê u slaaf Jakob: Meneer, ek is niks en ek verdien ook niks nie. Jare lank het ek vir Laban gewerk. Ek was daar by hom tot ’n kort rukkie gelede.
6 “Oor die jare het ek ’n klompie besittings bymekaargeskraap. Beeste, donkies en skape. En ook nog werkers: mans sowel as vroue. Ek vertel Meneer al hierdie dinge sodat Meneer my sal vergewe en goed vir my sal wees.”
7 Jakob se mense het teruggekom en gesê: “Ons het u broer gekry en hy is op pad na u toe. By hom is daar 400 manne.”