4 Jakob was bang vir Esau. Hy het daarom mense met ’n boodskap na sy broer Esau by die Seïrgebied in Edom gestuur.
5 Hulle moes die volgende sê: “So sê u slaaf Jakob: Meneer, ek is niks en ek verdien ook niks nie. Jare lank het ek vir Laban gewerk. Ek was daar by hom tot ’n kort rukkie gelede.
6 “Oor die jare het ek ’n klompie besittings bymekaargeskraap. Beeste, donkies en skape. En ook nog werkers: mans sowel as vroue. Ek vertel Meneer al hierdie dinge sodat Meneer my sal vergewe en goed vir my sal wees.”
7 Jakob se mense het teruggekom en gesê: “Ons het u broer gekry en hy is op pad na u toe. By hom is daar 400 manne.”
8 Jakob het geskrik en was baie bang. Angsbevange het hy gou al sy mense en diere in twee groepe verdeel.
9 Jakob het by homself gedink: “As Esau die een kamp aanval en vernietig, kan die ander kamp se mense en diere darem nog wegkom.”
10 Hy het eenkant toe gestap en daar gebid: “Here, U is die God van my oupa Abraham en my pa, Isak. By Laban het U vir my gesê: ‘Gaan terug na jou geboorteland. Ek sal daar vir jou goed wees.’