8 Jakob het geskrik en was baie bang. Angsbevange het hy gou al sy mense en diere in twee groepe verdeel.
9 Jakob het by homself gedink: “As Esau die een kamp aanval en vernietig, kan die ander kamp se mense en diere darem nog wegkom.”
10 Hy het eenkant toe gestap en daar gebid: “Here, U is die God van my oupa Abraham en my pa, Isak. By Laban het U vir my gesê: ‘Gaan terug na jou geboorteland. Ek sal daar vir jou goed wees.’
11 Here, ek is te klein vir u groot liefde. U was baie goed vir my en ek het dit nie verdien nie. Destyds is ek oor die Jordaan met net my kierie. Vandag het ek so baie besittings dat die twee kampe sommer vol staan.
12 En nou, Here, vra ek u hulp. Esau is op pad en ek is baie bang. Red my uit sy hande. Ek is bang hy maak my dood en sommer ook al die vroue en kinders.
13 “Here, U het tog self gesê dat U goed vir my sal wees en dat my nageslag baie sal wees. So baie soos die sand van die see. ’n Ontelbare menigte.”
14 Nadat Jakob die nag daar geslaap het, het hy besluit om vir Esau ’n present te gee. Hy wou sommer van sy vee neem en vir Esau gee.