17 As julle vandag egter anders besluit, vat ons Dina en gaan weg.”
18 Vir Hamor en Sigem het alles goed geklink en hulle is daar weg.
19 Die jongman, Sigem, het Dina so begeer dat hy onmiddellik met die voorbereidings vir die besnydenis begin het. Vir sy familie was Sigem ’n baie belangrike man.
20 Hamor en sy seun Sigem het die lede van die dorpsraad by die stadspoort gaan ontmoet. Hulle wou die dorpsraadslede van hulle ervaring vertel.
21 Hulle het gesê: “Broers, hierdie Jakobgroep is oulike mense. Laat hulle tog toe om onder ons te kom woon en te gaan waar hulle wil. Daar is tog genoeg plek vir ons almal in die land. Ons kan selfs met hulle dogters trou en hulle met ons jongmeisies.
22 Daar is egter ’n voorwaarde voor ons een volk kan word. Ons moet soos hulle word en ons almal laat besny. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat. Dan gaan hulle nie by ons bly nie en ons gaan nie een groot groep word nie.
23 Dink net daaraan, hulle beeste, hulle veetroppe en al hulle besittings word ook ons s’n. Kom ons gee toe sodat hulle hier by ons kan kom bly.”