5 Jakob het intussen die skoknuus verneem. Hulle het hom kom vertel hoe Sigem sy Dina-kind se lewe vernietig het. Jakob het aanvanklik niks gedoen nie, want hy wou eers vir die seuns wag. Hulle was nog met die vee in die veld.
6 Na ’n ruk het Hamor, Sigem se pa, by Jakob aangekom. Hy wou met hom oor Sigem se liefde vir Dina praat.
7 Presies op daardie oomblik het Jakob se seuns van die veld af gekom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was die broers geskok en woedend. Wat Sigem gedoen het, was verkeerd. Hoe kon hy Dinatjie by hom in die bed gedwing het? Hy het Israel beledig. So iets sou die broers nie duld nie.
8 Hamor, wat van niks geweet het nie, het voortgegaan om met Jakob en die seuns te praat. “Jakob,” het hy gesê, “my seun Sigem het sy hart op jou dogter verloor. En ek vra jou mooi, ou Jakob, laat die kinders tog trou, man.”
9 Hy het voortgegaan en gesê: “Kom, laat ons mense oor en weer met mekaar trou. Gee ons julle dogters en dan kan julle met ons dogters trou.
10 Julle kan tussen ons kom bly. Die land sal dan ook vir julle oop wees. Julle kan gaan waar julle wil en bly waar julle wil. En julle kan sake doen net waar julle ook al wil.”
11 Toe het Sigem gepraat. Hy het saam met sy pa gekom, maar die hele tyd niks gesê nie. Hy het opgestaan en Dina se pa en broers gesmeek: “Asseblief, ek sal julle enigiets betaal.