7 Presies op daardie oomblik het Jakob se seuns van die veld af gekom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was die broers geskok en woedend. Wat Sigem gedoen het, was verkeerd. Hoe kon hy Dinatjie by hom in die bed gedwing het? Hy het Israel beledig. So iets sou die broers nie duld nie.
8 Hamor, wat van niks geweet het nie, het voortgegaan om met Jakob en die seuns te praat. “Jakob,” het hy gesê, “my seun Sigem het sy hart op jou dogter verloor. En ek vra jou mooi, ou Jakob, laat die kinders tog trou, man.”
9 Hy het voortgegaan en gesê: “Kom, laat ons mense oor en weer met mekaar trou. Gee ons julle dogters en dan kan julle met ons dogters trou.
10 Julle kan tussen ons kom bly. Die land sal dan ook vir julle oop wees. Julle kan gaan waar julle wil en bly waar julle wil. En julle kan sake doen net waar julle ook al wil.”
11 Toe het Sigem gepraat. Hy het saam met sy pa gekom, maar die hele tyd niks gesê nie. Hy het opgestaan en Dina se pa en broers gesmeek: “Asseblief, ek sal julle enigiets betaal.
12 Julle kan vir Dina vra net soveel as wat julle wil en ek sal betaal. Ek sal alles gee net solank sy my vrou kan word.”
13 Jakob se seuns was nog woedend oor die ding wat Sigem met hulle suster gedoen het. Hulle het toe ’n baie slegte plan beraam.