11 God het verder gesê: “Ek is die God wat sterk is. Jou kinders moet vrugbaar wees en baie kinders hê. ’n Nasie, nee, sommer ’n klomp nasies, sal uit jou en jou kinders groei. Belangrike konings sal nog uit jou en jou nageslag kom.
12 Hierdie land wat Ek lank gelede aan Abraham en Isak beloof het, gee Ek nou aan jou en jou kinders. Jou nageslag sal nog in hierdie land woon.”
13 Skielik was God weg. Toe Hy klaar met Jakob op daardie plek gepraat het, was Hy net weg.
14 Op dieselfde plek waar God met hom gepraat het, het Jakob toe ’n klipstapel gepak. Hy het ’n offer van water en wyn daaroor uitgegooi. Hy het ook olie oor al die klippe gegooi.
15 Jakob het die plek Bet-El genoem omdat God daar met hom gepraat het.
16 Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het.
17 Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.”