2 Jakob het toe al sy huismense en werkers bymekaargeroep en gesê: “Los nou eens en vir altyd al julle vreemde gode. Was julle skoon en trek skoon klere aan.
3 Ons gaan binnekort Bet-El toe. Daar gaan ek ’n altaar vir die Here bou, omdat Hy geluister het toe ek moedeloos was en Hy altyd saam met my op die pad was.”
4 Almal het hulle afgode gebring asook hulle oorringe. En Jakob het al die goed gevat en dit onder die groot boom duskant Sigem begrawe.
5 Daarna het Jakob en sy mense Bet-El toe getrek. God was by hulle, want Hy het ’n groot angs oor die omringende stede laat kom sodat hulle Jakob en sy mense in vrede Bet-El toe laat trek het.
6 Uiteindelik het Jakob en al sy mense by Bet-El in Kanaän, ook Lus genoem, aangekom.
7 Daar het hy ’n altaar gebou en dit “God van Bet-El” genoem. Dit was op dieselfde plek waar God hom lank gelede een aand ontmoet en met hom gepraat het. Dit was destyds toe hy vir sy broer, Esau, gevlug het.
8 Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem.