6 Uiteindelik het Jakob en al sy mense by Bet-El in Kanaän, ook Lus genoem, aangekom.
7 Daar het hy ’n altaar gebou en dit “God van Bet-El” genoem. Dit was op dieselfde plek waar God hom lank gelede een aand ontmoet en met hom gepraat het. Dit was destyds toe hy vir sy broer, Esau, gevlug het.
8 Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem.
9 En God het weer met Jakob gepraat, net soos destyds toe hy vir sy broer gevlug het.
10 Hy het hom geseën en vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar jy sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal almal jou Israel noem.” Dis waar hy aan sy naam gekom het.
11 God het verder gesê: “Ek is die God wat sterk is. Jou kinders moet vrugbaar wees en baie kinders hê. ’n Nasie, nee, sommer ’n klomp nasies, sal uit jou en jou kinders groei. Belangrike konings sal nog uit jou en jou nageslag kom.
12 Hierdie land wat Ek lank gelede aan Abraham en Isak beloof het, gee Ek nou aan jou en jou kinders. Jou nageslag sal nog in hierdie land woon.”