5 Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in Kanaän gebore.
6 Op ’n dag het Esau besluit om na ’n ander land toe te trek. Hy wou van sy broer, Jakob, af wegkom. Hy het toe sy vroue, sy seuns, sy dogters en al sy werkers gevat en hulle is daar weg. Hy het al die besittings wat hy oor die jare in Kanaän versamel het, asook al sy kleinvee en grootvee, saamgeneem.
7 Esau en Jakob se besittings het net te veel geword en hulle kon nie meer saam boer nie. Die land, wat nog nie aan hulle behoort nie en waar hulle nog as vreemdelinge gebly het, was te klein vir al hulle vee.
8 Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon.
9 Hier is die name van Esau se seuns wat in die Seïrberge gebore is. Esau was die voorvader van al die Edomiete.
10 Die name van Esau se seuns was Elifas, seun van Esau se vrou Ada, en Reüel, seun van Esau se vrou Basemat.
11 Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas.