10 Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?”
11 Al die broers was jaloers op Josef. Sy pa het sy woorde onthou en dikwels daaraan gedink.
12 Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het.
13 Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers is naby Sigem met die skape. Ek stuur jou na hulle toe. Jy moet gaan kyk hoe dit met hulle gaan.”“Goed, ek sal gaan,” het Josef geantwoord.
14 Jakob het verder gesê: “Jy moet gaan kyk hoe dit met jou broers gaan en wat die toestand van die vee is. Kyk mooi en dan kom vertel jy my.” Josef is toe daar weg. Van Hebron af is hy reguit in die rigting van Sigem.
15 Terwyl Josef nog so in die veld stap, sien hy ’n vreemde man aankom. “Wat soek jy?” het die man gevra.
16 “Ek soek my broers,” het Josef geantwoord. “Meneer weet nie dalk waar hulle die skape laat wei nie?”