16 “Ek soek my broers,” het Josef geantwoord. “Meneer weet nie dalk waar hulle die skape laat wei nie?”
17 “Hulle was hier gewees,” het die vreemde man geantwoord, “maar toe is hulle weer vort. Ek het gehoor hulle is op pad Dotan toe.” Josef het toe sy broers se spoor gevat en hulle duskant Dotan ingehaal.
18 Hulle het hom al van ver af sien aankom. Voordat Josef nog by hulle was, het hulle klaar besluit om hom dood te maak.
19 Hulle het vir mekaar gesê: “Dit is mos die ou dromer wat hier aangestap kom.
20 Hoekom maak ons nie die ou windlawaai dood en gooi sy liggaam in een van die putte nie? Ons kan sê die een of ander wilde dier het hom gevang en uitmekaargeskeur. Dan sal ons sien wat van al sy droompraatjies gaan word.”
21 Toe Ruben hiervan hoor, het hy Josef probeer red. “Moet hom tog nie doodmaak nie,” het hy vir sy broers gesê.
22 “Moet tog nie dat sy bloed vloei nie,” het hy gepleit. “Gooi hom eerder in ’n put êrens in die woestyn, maar moet net nie die kind doodmaak nie.” Ruben het dit gesê omdat hy ander planne gehad het. Hy sou Josef uit die put red en hom na sy pa toe terugneem.