23 Juda het geantwoord: “Nouja, dan moet sy maar die goed hou. As ons langer soek, gaan die mense net vir ons lag. Ek het my deel gedoen en die boklam gestuur, maar jy kon haar nie kry nie. Ons kan nou niks meer doen nie.”
24 Ongeveer drie maande later het hulle vir Juda van Tamar kom vertel. “Jou skoondogter,” het hulle gesê, “het haar soos ’n prostituut gedra en nou verwag sy nog boonop ’n kind.”Juda was woedend en het geskreeu: “Gaan haal haar sodat sy verbrand kan word.”
25 Hulle het Tamar gegryp en haar nader gesleep. Gelukkig kon sy betyds vir haar skoonpa ’n pakkie met ’n boodskap daarby stuur. “Meneer,” het sy gesê, “die man aan wie hierdie goed behoort, is die pa van die kind. Kan Meneer dalk vasstel aan wie die seëlring met sy kettinkie en die kierie behoort?”
26 Juda het dit onmiddellik herken en gesê: “Los die vrou uit! Sy is hoegenaamd nie skuldig nie. Sy was reg en ek verkeerd. Ek moes Sela, my derde seun, aan haar gegee het, maar ek het dit nie gedoen nie. Ek is dus die skuldige. So, laat haar gaan.” Juda het nooit weer by Tamar geslaap nie.
27 Toe die wagtyd verby was en Tamar geboorte moes skenk, het hulle ontdek daar is ’n tweeling.
28 Terwyl sy geboorte gee, het een van die kinders sy hand uitgesteek. Die vroedvrou het ’n pers garingdraadjie om sy arm gebind en gesê: “Hy gaan eerste gebore word.”
29 Net toe het hy weer sy hand teruggetrek en sy broer is eerste gebore. Die vroedvrou het gesê: “Jy het jou kans benut en jy is eerste gebore.” Hulle het die seun Peres genoem.